R2m se perlemoen ná jaagtog in Porsche gevind
2011-08-17 17:41
Johannesburg – Perlemoen met ‘n geskatte straatwaarde van R2 miljoen is Woensdag in ‘n motor wat in Somerset-Wes deur die bestuurder agtergelaat is, gevind, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
Volgens kapt. Frederick van Wyk het die polisie inligting ontvang dat ‘n man in ‘n Porsche perlemoen by die dorp ingesmokkel het.
Die polisie het die motor opgemerk en dit agternagesit, het hy gesê.
Die bestuurder het daarin geslaag om van die polisie weg te jaag, maar hulle het die motor later verlate by Sir Lowry’s Pass gevind.
Nege-en-dertig sakke met 5 540 stukke perlemoen is op die motor se agtersitplek gevind.
Beslag is op die motor gelê en die motor is aan die departement van landbou, bosbou en visserye oorhandig.
Volgens Van Wyk is die polisie steeds op soek na die bestuurder.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA