R15 000 boete vir jaagduiwel
2012-01-30 21:57
Johannesburg – ‘n Motoris is Maandag ‘n boete van R15 000, opgeskort vir vyf jaar, opgelê in die Brits-landdroshof nadat hy teen 200 km/h gery het van Sun City na Pretoria, het die departement van openbare veiligheid in Noordwes gesê.
Die boete, of 12 maande tronkstraf, is opgeskort op voorwaarde daarvan dat Fardeen Mahomed (22) nie ‘n soortgelyke oortreding begaan binne die volgende vyf jaar nie, het Lesiba Kgwele, woordvoerder, gesê.
Mahomed is deur verkeersbeamptes gevang waar hy op nuwejaarsdag in ‘n BMW 330i op die N4 naby Brits gejaag het. Die spoedbeperking op dié pad is 120 km/h.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA