Pta-tiener verkrag ná sy Twitter-man ontmoet
2012-05-17 08:33
Pretoria – 'n Pretoriase tiener (13) is na bewering verkrag deur 'n 45-jarige man wat sy op die sosiale netwerk Twitter ontmoet het, is Donderdag berig.
Kapt. Marissa van der Merwe het gesê die meisie het op 13 Maart stokkies gedraai, waarna sy die man by haar ouers se spoghuis by die eksklusiewe Silver Lakes-gholflandgoed in Pretoria-Oos ontmoet het, het Beeld berig.
"Toe die meisie die deur oopmaak het sy besef dat die man baie ouer was as wat hy aanlyn voorgegee het om te wees," het Van der Merwe gesê.
Die meisie het probeer om die deur toe te maak, maar die man het die deur oopgedruk.
"Sy kon nie daarin slaag om weg te kom nie en die man het haar verkrag," het Van der Merwe gesê.
Die vermeende verkragter is kort ná die aanval in hegtenis geneem en het Woensdag vir die tweede keer in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Sy naam mag nie genoem word nie, omdat hy nog nie formeel aangekla is nie.
Van der Merwe het gesê sy praat al vir 'n geruime tyd met die man, maar hy het nie 'n foto van homself op sy profiel gelaai nie.
Sy het mense aangeraai om versigtig te wees op sosiale netwerke.
"Moenie net vreemdelinge by jou huis innooi nie. Dit is gevaarlik."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA