Pta-studente jaag resies in spog-motors
2009-07-17 14:43
Carina van Wyk
Pretoria- Twee studente van Pretoria verskyn vandag in die hof nadat hulle in die vroeë oggendure gister in twee luukse motors resies gejaag het.
Die twee het omstreeks 02:00 in ’n swart Aston Martin en ’n M-klas silwer Mercedes-Benz gejaag.
Die mans (21 en 25) is in hegtenis geneem nadat hulle glo ook verskeie rooi verkeersligte in Atterbury- en Lynnwoodweg verontagsaam het, het kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, gesê.
Lede van die blitspatrollie het die motors omstreeks 02:00 in Atterburyweg opgemerk. Die studente is kort daarna afgetrek en in Kings Highway gearresteer.
Hulle studeer onderskeidelik by die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en die Varsity College. Volgens Weilbach is hulle op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.
Hulle verskyn vandag in die Hatfield-gemeenskapshof op aanklag van roekelose en nalatige bestuur.
Dis onbekend wie die eienaars van die motors is.
Volgens www.mercedes-benz.co.za kos ’n nuwe ML63 AMG-model byna R1,14 miljoen.
Die goedkoopste Aston Martin wat op www.astonmartin.co.za te koop geadverteer word, kos byna R1,1 miljoen terwyl die duurste model op dié webwerf jou R3,4 miljoen uit die sak sal jaag.
–Beeld