Pta-man vas oor gesteelde voertuie
2011-12-19 23:05
Johannesburg – ‘n Man is Maandag in hegtenis geneem vir die besit van voertuie wat vermoedelik gesteel is in Kameeldrift-Wes, het die polisie in Gauteng gesê.
Die 40-jarige man het die polisie na sy motorslaghuis op ‘n kleinhoewe gelei, waar hulle nege motors gevind het, het kapt. Bonginkosi Msimange gesê.
Dit het twee Nissan 1400-bakkies en vier verskillende BMW-modelle ingesluit. Die polisie het beslag gelê op verskeie identiteitsdokumente en lisensieskywe. Die inhegtenisneming het gevolg op ‘n wenk van lede van die gemeenskapspolisiëringsforum in die gebied.
Hulle het die polisie ingelig van ‘n Ford Focus wat dikwels deur die gebied gery het met verskillende nommerplate.
“Die polisie het die motor gesien en die bestuurder beveel om af te trek. Die polisie het die motor ondersoek. Dit is blykbaar in 2005 in Springs gesteel,” het Msimango gesê.
Die man sal eersdaags in die Pretoria-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA