Pta-hospitaal: 15 babas, agt beddens
2011-01-24 08:50
Pretoria – Vyftien pasgebore babas moes ’n paar dae lank agt beddens in die waakeenheid van die Dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noordwes van Pretoria, deel.
Dit ten spyte van ’n waarskuwing ná die ondersoek van die dood van ses babas by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg verlede jaar in Mei, wat getoon het dat oorbevolking die gevaar van infeksies verhoog.
Die babas se ma’s is tans in ’n hofstryd met dié hospitaal gewikkel.
Jack Bloom, provinsiale DA-gesondheidswoordvoerder, het gesê nadat hy eergister navraag oor die situasie by die Dr. George Mukhari-hospitaal gedoen het, is die babas inderhaas elkeen na ’n eie bed geskuif.
“Dr. Trevor Fisher, uitvoerende hoof van die hospitaal, het bevestig dat daar wel 15 babas was wat agt beddens moes deel, maar gesê sewe van die babas is na die hoësorgeenheid geskuif. Net ’n tweeling het teen gister nog ’n bed gedeel,” het Bloom gesê.
Volgens Bloom is nog ’n groot bekommernis dat daar net drie ventilators beskikbaar was vir die babas in die waakeenheid en ook net drie opgeleide verpleegsters.
Fisher het by navraag bevestig hulle het reeds die probleem met die beddens opgelos, maar het ontken dat hulle ’n krisis met verpleegpersoneel het.
“Somtyds gebeur dit dat daar baie premature babas op ’n slag gebore word en dan het ons nie genoeg beddens in die waakeenheid nie.
“Eergister (Saterdag) het ons van die babas na die hoësorgeenheid geskuif sodat elke baba ’n eie bed kon hê,” het Fisher gesê.
Hy het gesê hulle behoort teen einde vandeesweek vier ekstra beddens in die waakeenheid by te kry.
Hulle kry ook bykomende toerusting soos ventilators en dit behoort dié week ingerig te word.
“Ons beoog om uiteindelik 20 beddens in die eenheid te hê. Daar is ook laat verlede jaar nog 20 verpleegsters aangestel.”
Fisher het gesê hoewel hospitale nooit genoeg verpleegsters sal hê nie, is daar nie ’n krisis by die hospitaal nie.
Bloom het gesê die hospitaal help met die geboorte van sowat 12 000 babas per jaar en voorsien die enigste gespesialiseerde sorg vir groot getalle arm, landelike mense.
“Dit is onaanvaarbaar dat die oorbevolking die lewens van pasgebore babas in gevaar stel.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld