Pta-dokter vas ná ongeluk
2011-12-25 17:58
Johannesburg – ‘n Mediese dokter is in hegtenis geneem ná ‘n ongeluk waarin twee mense dood is in Cullinan, oos van Pretoria, het die polisie in Gauteng Sondag gesê.
Die dokter het omstreeks 18:00 Saterdag gejaag en met sy Mercedes-Benz teen die agterkant van ‘n bakkie gebots op die R513, het Johannes Jafta, woordvoerder, gesê.
“Die bakkie het ‘n paar keer gerol. Twee mense is op die toneel dood,” het hy gesê. Ses ander is in ‘n ernstige toestand na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Die dokter, in sy vroeë 40’s, is nie beseer nie.
Volgens Jafta is hy op die toneel in hegtenis geneem en op borgtog van R1 000 vrygelaat. Jafta kon nie onmiddellik sê waarvan die dokter aangekla sal word nie. Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Die insittendes van die bakkie was op pad na ‘n kerk in Mamelodi toe die ongeluk gebeur het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA