Prokureur se nagmerrie in selle
2009-09-29 15:34
Jeanne-Marié Versluis
Pretoria - ’n Prokureur wat onregmatig deur polisielede van Witrivier in hegtenis geneem, aangehou en aangerand is, moet skadevergoeding van R111 234 kry, het die hooggeregshof in Pretoria gister gelas.
Angus Johan Nel het ’n skadevergoedingseis teen die minister van veiligheid en sekuriteit by dié hof ingedien. Regter Ben du Plessis het gister in sy uitspraak gesê Nel is op 25 Mei 2006 na die Witrivier-polisiekantoor om ’n gearresteerde kliënt by te staan.
Nel het getuig hy het sy kliënt hier by ene supt. Molapo se lessenaar aangetref. Dit het gelyk of Molapo ’n verklaring by die
kliënt wou afneem. Volgens Nel wou Molapo hom nie toelaat om met die kliënt te praat nie en het hy gesê Nel moet “f*** off”.
Ene insp. Aphane het aan Nel gesê hy meng in die polisie se sake in. Stemme is verhef en Nel het aan sy kliënt geskree om niks te sê nie.
Nel het by supt. T.D. Jele, stasiekommissaris, gaan kla.
Volgens Nel het Jele aan Molapo gesê dat hy (Nel) ’n prokureur is wat met sy kliënt wil praat, maar Molapo het onbeleef aan haar (Jele) gesê hy is besig.
Toe sy volhou, het Molapo gesê sy moet “f*** off”.
Sonder om na Nel se prokureursidentiteitskaart te kyk, het Molapo gesê dat hy (Nel) hom as ’n prokureur voordoen.
Molapo het sy manne beveel om Nel te arresteer. Drie van hulle het hom gegryp en sy rug teen ’n gordynhaak in die muur gestamp. Molapo het hom aan die keel gegryp en teen die muur opgedruk. Twee ander mans het Nel onderskeidelik op die wang en oor en op die bors geslaan.
Voordat Nel en sy kliënt na die sel geneem is, het Molapo gesê hulle sal waarskynlik in die sel gesodomiseer word en omdat daar geen ander wit mense is nie, sal hulle geen hulp kry nie.
Volgens Nel was hulle in ’n vuil polisiesel saam met 12 ander aangehoudenes. Nel se kliënt kon die vertroue van die ander aangehoudenes wen en die nag het sonder voorvalle verloop.
Du Plessis het gesê Nel se getuienis is meer waarskynlik as dié van Molapo. Nel se weergawe plaas Molapo in die rol van ’n arrogante polisiebeampte wat nie behoorlike respek vir die ’n gearresteerde se regte het nie.
Dié prentjie van Molapo is gestaaf deur twee ander getuies.
Molapo het getuig Nel het toenemend “aggressief en wild” geraak en aangegaan asof hy dronk was. Hy het glo ook gevloek en beledigings geskree.
Du Plessis het gesê Nel se arrestasie en oornag-aanhouding was onregmatig. Die polisielede het hom aangerand.
Nel het posttraumatiese stressindroom opgedoen.
“Die arrestasie en aanhouding is gemotiveer deur ’n arrogante misbruik van mag aan Molapo se kant. Dit is vererger deur Molapo se kwaadwillige dreigement dat die eiser (Nel) in die selle verkrag sou word en, om rassistiese redes, geen hulp sou ontvang nie.”
Die minister is ook gelas om Nel se koste en rente op die skadevergoedingsbedrag te betaal.
– Beeld