Prokureur kritiek na inbraak
2010-01-15 14:17
Johannesburg – ‘n 58-jarige prokureur is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat rowers hom verskeie kere met ‘n mes gesteek het by sy huis in Mthatha.
“’n Groep van vyf mans het Donderdagaand die deur afgebreek en in die slagoffer se 14-jarige dogter se slaapkamer ingegaan. Hulle het ‘n selfoon gevat en toe na die slagoffer se slaapkamer beweeg waar hulle aangedring het op geld, vuurwapens en selfone,” het supt. Mzuksi Fatyela, polisiewoordvoerder, gesê.
Die rowers het die man toe verskeie kere met ‘n mes gesteek en gevlug met drie selfone en geld. Die polisie moet nog bevestig wat alles tydens die rooftog gesteel is.
“Die slagoffer is na die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal geneem en is in ‘n kritieke toestand. Een van die verdagtes is later in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Maandag in Mthatha in die landdroshof verskyn,” het Fatyela.
Volgens Fatyela kan die rowers moontlik ook verbind word aan soortgelyke inbrake in Mthatha. “Hulle breek die sterkste sekuriteitshekke af en klim soms deur die dak.”
– Sapa