Prof wil dagvaar nadat hy ma se begrafnis mis
2012-03-26 08:03
Potchefstroom – Prof. Wannie Carstens het sy ma se begrafnis misgeloop omdat twee van sy motorbande op pad daarheen gebars het toe hy ’n slaggat buite Ottosdal getref het.
Carstens, direkteur van die Noordwes-Universiteit se skool vir tale op die Puk-kampus, wil die provinsie dagvaar vir die sowat R6 000 se skade.
Geen geld kan egter vergoed vir die emosionele verlies dat hy nie van sy ma, Dot (79), kon afskeid neem nie, het Carstens Saterdag gesê.
As voorsitter van die Afrikaanse Taalraad het hy ’n bedrywige program.
Hy en sy vrou, Wilma, kon daarom eers Saterdagoggend vroeg na Upington vertrek vir die begrafnis.
“Ek het so 100 km/h gery. Omtrent 15 km buite Ottosdal op pad na Delareyville het ons die gat geslaan. Dit was nog donker. Ek het dadelik gevoel daar is fout.”
Carstens het afgetrek en ontdek die Mercedes-Benz se twee linkerbande het elk ’n gat in.
Die motor is na Klerksdorp ingesleep en die bande vervang, maar Carstens kon nie verder ry nie weens moontlike skade aan die onderstel en gebuigde wielvellings.
“My broer was ontsteld en my suster in trane,” het Carstens gesê.
Matshube Mfoloe, woordvoerder van Noordwes se departement van paaie en vervoer, het gesê die pad het groot herstelwerk nodig, maar daar is nie nou geld daarvoor nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld