Prof verkrag glo 2 haweloses in sy huis
2012-01-06 09:32
Johannesburg – ’n Afrikaanssprekende professor aan Unisa in Pretoria is in hegtenis geneem omdat hy glo op Kersdag twee hawelose jong mans verkrag het.
Ao. Annabel Middelton, polisiewoordvoerder, het gesê die 52-jarige akademikus word ook van omkopery aangekla omdat hy die polisiebeamptes wat hom op 26 Desember in hegtenis geneem het, glo probeer omkoop het.
Die verdagte is ’n professor in die geesteswetenskappe.
Beeld mag nie sy identiteit bekend maak voordat hy in die hof gepleit het nie.
“Die professor het glo die jong haweloses na sy huis in Garsfontein geneem waar hy hulle laat bad en stort het en vir hulle kos en nuwe klere gegee het.
Hy het hulle glo daarna gedwing om met hom seks te hê om daarvoor te vergoed,” het Middelton gesê.
“Hulle het die voorval by die polisie aangemeld en die professor is die volgende dag by sy huis in hegtenis geneem.”
Die vermeende slagoffers is 20 en 22 jaar oud.
Die professor het in die Pretoriase streekhof verskyn en sal in polisie-aanhouding bly totdat hy einde vandeesmaand weer sal verskyn en moontlik sal pleit.
Middelton het gesê die polisie vermoed dit is iets wat hy gereeld gedoen het.
“Die polisie is ook op soek na die eienaars van ’n Mercedes-Benz en ’n VW Jetta wat vermoedelik soortgelyke misdrywe gepleeg het.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld