Prof van Unisa kry borgtog ná 'verkragting'
2012-01-10 17:04
Johannesburg – ‘n Professor van Unisa is op borgtog vrygelaat ná bewerings dat hy twee hawelose mense op Kersdag verkrag het, het die polisie in Pretoria gesê.
Ao. Duane Lightfoot sê die 52-jarige man is vrygelaat aangesien daar ‘n moontlikheid is dat die voorval met toestemming gebeur het.
“Wat ek van die ondersoekbeampte gehoor het is dat daar geen rede vir die polisie is om borgtog teen te staan nie, aangesien die twee slagoffers albei volwassenes is,” het Lightfoot gesê.
Daar is ook ‘n sterk moontlikheid dat die slagoffers toestemming gegee het, het Lightfoot vertel.
Sapa berig die professor is Saterdag vrygelaat.
Die man is op 26 Desember in hegtenis geneem nadat hy na bewering twee mans – onderskeidelik 20 en 22 jaar oud – in ‘n veld opgetel het.
Lightfoot sê die professor het glo die rondloper na sy huis in Garsfontein geneem. Hy het kos en klere vir die man gegee.
Volgens Lightfoot het die hawelose man “seksuele gunste” uitgevoer.
Daarna het die professor die man afgelaai en ‘n ander hawelose man in die veld opgetel. Die professor het ook kos en klere vir dié jong man gegee en seksuele gunste is na bewering uitgevoer.
Die hawelose mans het die beweerde verkragtings by die Garsfontein-polisiestasie aangemeld en die professor is daarna aangekeer.
Die verdagte se naam mag nie genoem word totdat hy op 30 Januarie in die Pretoriase landdroshof verskyn nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA