Prof: Mbeki/Cope-skakel onwaar
2011-01-13 14:54
Johannesburg – 'n Berig dat oudpres. Thabo Mbeki direk betrokke was by die vorming van Cope is 'n "waninterpretasie", het 'n prof. Dirk Kotze, 'n politieke ontleder, Donderdag gesê.
"Hulle het sekerlik die hele situasie waninterpreteer en dit wat deur die joernalis en ander berigte gesê word is beslis nie 'n ware weerspieëling van die situasie nie," het Kotze aan SABC-radionuus gesê.
Kotze het reageer op 'n berig in Beeld wat uitgelekte diplomatieke inligting, wat deur Media24 bekom is, aanhaal.
Die dokument van 5 Desember verwys na 'n vergadering tussen 'n diplomaat, die Amerikaanse ambassade en Kotze.
Beeld noem die verklikker-webblad WikiLeaks as sy bron.
Volgens dié dokument was Mbeki, wat deur die ANC gevra is om as president uit te tree, betrokke by die formulering van Cope se beleid.
Kotze het glo aan die diplomaat gesê dat Smuts Ngonyama, Mbeki se voormalige woordvoerder en huidige woordvoerder van Cope, te kenne gegee het dat Mbeki die beleidsdokument saamgestel het.
"Smuts het dit baie duidelik gemaak dat die beleidsdokument van Mbeki af kom," het Kotze gesê.
"Die dokumente het al die eienskappe van baie van Mbeki se ANC-briewe," het hy bygevoeg.
Beide Kotze en Ngonyama het die berig ontken.
Mukoni Ratshitanga, Mbeki se woordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie.
Volg Nuus24 op Twitter