Prof Jansen het groot planne met UV
2009-08-28 06:40
Johannesburg - As sy raad dit goedkeur, sal die Universiteit van die Vrystaat (UV) van volgende jaar af eerstejaarkoshuise hê wat 50% wit en 50% swart is.
Ontgroening sal ook heeltemal afgeskaf word.
Prof. Jonathan Jansen, rektor, het gister op ’n mediakonferensie in Johannesburg verduidelik hoe hy van dié uitdagings gaan pak.
Jansen het gesê die UV is een van die mees diverse universiteite, maar ook die mees gesegregeerde. Hy het verwys na wit en swart studente wat in die kerke, koshuise, klasse en tydens sosiale aktiwiteite afgesonder is.
In die talle gesprekke wat hy met wit en swart studente gehad het, het hy tot die slotsom gekom hulle is redelik, maar die manier waarop dinge by die universiteit gereël word, dwing hulle in wit en swart groeperinge in.
Volgens Jansen gaan hy ’n voorstel aan die raad maak om koshuise teen ’n baie vinnige tempo te integreer.
“En ek wil nie k-k hoor van kulturele verskille nie.”
Sy plan is om ’n nuwe klas Kovsies van hoë gehalte te skep wat gemaklik is met mense wat anders as hulle lyk.
Hy het gesê met sy plan om van volgende jaar die helfte wit en die helfte swart eerstejaarstudente in koshuise te hê kan die universiteit volgende jaar die mees geïntegreerde een wees.
Hy gaan dit egter nie in studente se hande los nie omdat hy nie nog ’n jaar van apartheid gaan duld nie.
Wat senior studente betref, het Jansen gesê spesiale programme gaan gevolg word om hulle ook te integreer.
As deel van die omdraai-strategie gaan elke eerstejaarstudent ook met ’n skootrekenaar toegerus word sodat hul prioriteite kan verander en hulle nie tyd het om mense in kruiwaens op die kampus rond te stoot en te dink dis snaaks nie.
Elke eerstejaarstudent gaan ook ’n “oorsese ervaring kry en dit gaan nie ’n uitstappie Brandfort toe wees nie”.
Jansen gaan voorts met ’n intensiewe veldtog by van die land se mees vooraanstaande skole begin om topleerlinge na die Vrystaat te lok. “Ek wil die beste wit en swart studente hê en elkeen wat verdienstelik is, moet kan hulp kry.”
Jansen het toegee dat Afrikaanse en Engelse klasse tot segregasie bydra.
Hy meen daar moet gekyk word hoe studente Afrikaanse én Engelse klasse kan bywoon, terwyl hulle blootgestel moet word aan dosente wat uitstekend in albei tale is. “Dis onregverdig om kinders wat op skool Afrikaanse onderrig gekry het, in hul eerste jaar in ’n Engelse klas te sit.”
- Beeld