Private skole ‘is bastions van klasse-ongelykheid'
2010-12-11 07:26
Die Burger
Kaapstad - Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het Vrydag uitgevaar teen die bestaan van private skole en dit as “bastions van klasse-ongelykheid” bestempel.
“Swart kinders in townshipskole lewe daagliks met die vrees vir mislukking terwyl hul wit eweknieë in private skole jaar ná jaar bo-aan die lys van top-presteerders pryk,” het hy gesê.
Vavi was een van die sprekers by die nasionale konferensie van die Jong Kommunisteliga (JKL) wat dié naweek in Mafikeng in Noordwes plaasvind. Hy het ’n groot deel van sy toespraak gewy aan die bedenklike toestand waarin Suid-Afrika se onderwysstelsel verkeer en ’n beroep op die JKL gedoen om sy vroeëre veldtog teen die bestaan van private skole weer aan die gang te kry.
Volgens hom is die onderwyssituasie in die land die grootste van Suid-Afrikaners se probleme. “Die verskriklike toestand van ons onderwys behoort júlle veral te bekommer, want ’n sosialistiese samelewing moet gebou word op die fondamente van ’n opgevoede jeug.”
Vavi het bepaalde statistieke genoem om sy kommer oor die skolestelsel te staaf:
* Net 3% van kinders wat die skolestelsel betree, slaag wiskunde op hoërgraadvlak;
* 12-jariges in Suid-Afrika lees drie keer swakker as 11-jariges in Rusland; en
* 16-jariges vaar drie keer keer swakker in wiskunde as 14-jariges in Siprus.
Hy het egter daarop gewys dat wit leerders wel in ooreenstemming met die internasionale gemiddelde presteer wat wiskunde en wetenskap betref.
“Kinders in swart townships is die eintlike slagoffers van ’n ongelyke skolestelsel,” het hy gesê.
Hy het die hoop uitgespreek dat die jong kommuniste veral stu-krag sal verleen aan “belangrike veldtogte” vir kurrikulumverandering.
- Die Burger