Privaat-motors moontlik in Jhb-middestad verban
2011-09-10 14:46
Johannesburg – Die Johannesburgse metro oorweeg dit om privaat motors uit sekere dele van die middestad te verban, het ‘n nuusberig Saterdag gesê.
Volgens Beeld het Rehana Moosajee, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Vrydag gesê dat ‘n plaaslike wetsverandering binnekort op die tafel sal verskyn om sekere dele van die middestad slegs vir publieke vervoer oop te stel.
Dit sal verkeersopeenhopings en besoedeling teenwerk.
Sy het motoriste verseker dat veilige en betroubare openbare vervoer beskikbaar sal wees.
Mense sal ook aangemoedig word om fietse en motorfietse te gebruik.
Voorstelle om spesiale bane vir fietse in die middestad aan te lê word ook oorweeg.
Lisa Seftal, die uitvoerende direkteur van vervoer, sê die strate is vir alle padgebruike en daar moet ‘n balans gehandhaaf word.
“Strate moet veilig wees en voetgangers en fietse moet aangemoedig word. Die hoeveelheid privaat voertuie in die middestad moet beperk word,” het sy gesê.
Volgens Seftel is die vervoerstelsel in Johannesburg besig om agteruit te gaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA