Priester veroordeel ná hy SA seun molesteer
2011-10-16 13:15
Johannesburg – 'n Hof in die Verenigde Koninkryk (VK) het 'n Anglikaanse priester veroordeel nadat hy 'n Suid-Afrikaanse seun in 1957 molesteer het, berig die Sunday Times.
Leslie Carter (84) het in 'n Londense hof skuldig gepleit op nege aanklagte, insluitend dié aanklag van onsedelike aanranding. Hy word Woensdag gevonnis.
Volgens die Sunday Times het die 66-jarige Kaapse man, wat nou 'n suksesvolle mediese praktisyn is, Scotland Yard in 2004 gekontak om vas te stel of Carter in die VK werk en of ander slagoffers na vore gekom het.
Die man is as 'n 12-jarige kind deur Carter gemolesteer terwyl hy en twee seuns in Engeland vakansie gehou het. Sy ouers het ingestem dat hy die reis meemaak nadat Carter, wat destyds die kapelaan by die St George's Grammar School, hul vetroue gewen het.
Carter het die Kaapse skool in 1962 verlaat toe hy na die Verenigde Koninkryk teruggekeer het om as kapelaan by die Quainton Hall Voorbereidingskool in Harrow te werk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA