Priester vas vir bedrog van miljoene
2011-10-06 17:59
Johannesburg – 'n Priester (73) is in hegtenis geneem nadat hy iemand wou omkoop om korrupsie van miljoene weg te steek, het die Valke Donderdag gesê.
"Hy is in hegtenis geneem nadat hy Yusuf Abramjee van LeadSA wou omkoop om stil te bly oor korrupsie en bedrog by twee skole wat hy bestuur," kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, gesê.
Die korrupsie en bedrog beloop miljoene rande.
Die priester het Abramjee R1,2 miljoen aangebied en dit later na R7 miljoen verander. Hy het na bewering R50 000 in sy besit gehad toe hy Woensdag aan die Oosrand in hegtenis geneem is, het Polela gesê.
Die man wou die manier waarop hy die geld by twee skole in die Ramaphosa informele nedersetting in Germiston en Denver, suid van Johannesburg, bestuur, wegsteek.
Polela het gesê die priester het R20 miljoen van die Gautengse departement van onderwys ontvang om die twee skole te bestuur en daar is bewerings dat die geld misbruik is.
"Ons ondersoek die saak. Dit sluit die departement van onderwys en die departement van plaaslike regering in. Die geboue wat hy gebruik het, behoort aan die departement van plaaslike regering."
Adrian Lackay, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, het gesê die SAID het 'n verslag oor die priester ontvang.
"Ons beskou die aanklag in 'n baie ernstige lig en sal die saak verder vat."
Die priester sal na verwagting Vrydag in die Boksburg-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA