Priester kry borgtog
2011-10-07 17:04
Johannesburg – Die verhoor van 'n 73-jarige priester wat teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog is uitgestel, het sy prokureur Vrydag gesê.
"Hy het in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdaad in Johannesburg verskyn en sy saak is tot 23 November uitgestel," het Cliff Alexander gesê.
Josias Mabaso is in hegtenis geneem nadat hy Yusuf Abramjee van LeadSA wou omkoop om stil te bly oor korrupsie en bedrog by twee skole wat hy bestuur.
Die korrupsie en bedrog beloop miljoene rande.
Die priester het Abramjee R1,2 miljoen aangebied en dit later na R7 miljoen verander. Hy het na bewering R50 000 in sy besit gehad toe hy Woensdag aan die Oosrand in hegtenis geneem is, het kol. McIntosh Polela gesê.
Die man wou die manier waarop hy die geld by twee skole in die Ramaphosa informele nedersetting in Germiston en Denver, suid van Johannesburg, bestuur, wegsteek.
Polela het gesê die priester het R20 miljoen van die Gautengse departement van onderwys ontvang om die twee skole te bestuur en daar is bewerings dat die geld misbruik is.
"Ons ondersoek die saak. Dit sluit die departement van onderwys en die departement van plaaslike regering in. Die geboue wat hy gebruik het, behoort aan die departement van plaaslike regering."
– Volg Nuus24 op Twitter