‘Prez Julius’ beloof rykdom
2010-05-27 07:33
Politieke redaksie, Die Burger
Kaapstad - Die nasionalisering van myne, banke en groot nywerhede is op die ANC se agenda, het ’n selfversekerde Julius Malema, ANC–jeugleier, die parlement gister verseker.
Hy het LP’s gewaarsku hulle moenie verbaas wees as nasionalisering reeds teen 2012 ANC-beleid is nie.
“Ék sit op die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ...nasionalisering ís op die ANC se agenda – ek sal weet.”
Hy het opposisievrese dat nasionalisering tot disinvestering sal lei en Europese beleggers sal afskrik, afgelag: “Die Chinese wag en is reg om in te beweeg. Ons sal ons minerale met die Chinese deel.”
Hy is vergesel van ’n afvaardiging van die jeugliga wat die vorige dag gedreig het om Kaapstad onregeerbaar te maak en openbare eiendom te vandaliseer.
Daaroor was die jeugleier en sy woordvoerder, Floyd Shivambu, egter tjoepstil.
“Gaan vra jou ma,” was Shivambu se kommentaar op vrae.
Hulle wou nie sê of hulle die optrede van jeugligalede wat toiletstrukture vroeër die week in informele nedersettings afgebreek het, veroordeel nie.
Shivambu het dit duidelik gestel dat die ANC-jeugliga “volgens sy eie reëls” te werk gaan. “Óns sal aan die media voorskryf hoe en wanneer ons met julle praat.”
Sy vae belofte om na afloop van die verrigtinge vrae te antwoord, het nie verwesenlik nie toe hy en Malema haastig in ’n silwer Mercedes-Benz geklim en weggery het.
ANC-LP’s was vol lof vir die jeugliga se voorlegging, waarin voorgestel is dat mineraalregte in sy geheel in staatsbesit moet wees en dat private maatskappye net in vennootskap met die regering sal mag myn.
“President Julius! Jy het ’n baie skerp brein, jy gaan ons almal uit hierdie armoede en lyding verlos. Hou so aan,” het Nomvula Mathibela tydens vraetyd gesê.
Nog ’n ANC-LP, Chris Gololo, het gesê: “Voorsitter, ek het nie vrae nie. Hulle weet duidelik wat om te doen, hulle is in beheer.”
Volgens die jeugliga se voorlegging moet die staat ’n minimum beherende aandeel van 60% in elke myn hê en private aandeelhouers moet “die minimum” kry.
“As dit uiteindelik net 5% is, is dit nie sleg nie,” het Malema gesê.
Hy het die De Beers-diamantgroep se Oppenheimer-familie – “die rykste van hulle almal”– voorgehou as ’n voorbeeld van kapitalistiese uitbuiting.
Hy het voorts ’n beroep op die parlement gedoen om wetgewing deur te voer om ’n moratorium te plaas op die toeken van mynlisensies totdat die staatsbeheerde mynmaatskappy op die been is sodat ’n stokkie voor “plundering” van minerale gesteek kan word.
Bestaande myne mag glo met hul bedrywighede voortgaan totdat hul lisensies verstryk.