Pretoria-mans ‘wou motor koop met diamante’
2010-09-14 00:54
Pretoria - Twee mans is Maandag in hegtenis geneem toe hulle diamante en goud wou gebruik om ‘n motor in Sunnyside, Pretoria, te koop, het die polisie gesê.
‘n Motorhandelaar het die polisie in kennis gestel toe hy ‘n oproep oor dié aanbod gekry het. Die voornemende kopers is met hul aankoms by die handelaar ondervra deur die Pretoria K9-eenheid, het kapt. Colette Weilbach gesê.
Die polisie het op hul motor beslag gelê en 14 diamante en twee stukkies goud, met ‘n geskatte waarde van R6 miljoen, in hul besit gekry.
Een van die mans, in sy 40s, het vir die Brasiliaanse ambassade gewerk. Die ander man, in sy 30s, is ‘n Zimbabwiër.
Hulle is aangekla van onwettige handel in edelstene en sal binne die volgende paar dae in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Volgens Weilbach het die inhegtenisneming gebeur enkele ure nadat Gauteng se nuwe polisiekommisaris, luitenant-generaal Mzwandile Petros, gesê het vennootskappe tussen die polisie, gemeenskappe, ondernemings en akademiese instellings sal die sleutel hou tot die ontwikkeling van misdaadbestryding-strategieë in die provinsie.
- SAPA