President se troue skop af
2010-01-04 11:43
Durban – Bekendes van oor die hele Suid-Afrika heen het op die huis van president Jacob Zuma toegesak om te sien hoe hy vrou vat.
Sekuriteit by Zuma se huis waar hy met Thobeka Madiba sal trou was teen Maandagoggend reeds baie streng.
Die president het die media Sondag in ‘n persverklaring gevra om weg te bly van die troue en gesê dit sal ‘n “intieme familieseremonie” wees.
Joernaliste wat egter reeds sedert vroegoggend voor die perseel uitgekamp het sal moontlik die seremonie kan bywoon.
Zuma het in 2007 op presies dieselfde plek met Nompumelelo MaNtuli-Zuma getrou.
‘n Reuse-markiestent is opgeslaan en verskeie bokke en skape is vir die fees geslag.
Die president se ander vroue sluit in Sizakele Khumalo - met wie hy in 1973 getrou het - asook Nompumelelo MaNtuli-Zuma.
Hy was voorheen wettig getroud met Kate Zuma. Sy het in 2000 gesterf. Hy was ook getroud met Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake. Hulle het egter in 1998 geskei.
Zuma is die pa van 18 kinders.
Hy is glo ook verloof aan Gloria Bongi Ngema van Durban.
–Sapa