Presidensie 'teleurgesteld' oor FNB-veldtog
2013-01-23 18:01
Johannesburg – Die presidensie het Woensdag teleurstelling en verbasing uitgespreek oor FNB se You Can Help-advertensieveldtog.
“Ligsinnige advertensies wat ‘n haat vir die regering of die regerende party uitspreek sal ons nie help om die land se ontwikkelingsdoelwitte te bereik nie,” het hy in ‘n verklaring gesê.
“Die presidensie is teleurgesteld en verras deur die eensydige veldtog van FNB.”
Die veldtog bestaan uit verskeie video’s van kinders in skooluniforms wat hul hoop vir die land uitspreek.
“Die land word deur armoede oorrompel... terwyl [pres.] Jacob Zuma sy huis laat opknap,” het een jeugdige van KwaZulu-Natal gesê.
‘n Universiteitstudent van Gauteng het gesê: “Die regering dink net aan hulself... Ek is van ‘n plattelandse gebied en die regering sien nie wat gebeur nie.”
Collins Chabane, die minister in die presidensie, het gesê die huidige globale ekonomiese krisis bedreig werke en mense se lewensbestaan.
“Nou is die tyd vir alle sektore van die samelewing om saam te staan om die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid te teiken. Dit is ons gemeenskaplike vyand as die mense van Suid-Afrika.”
Hy sê sterk vennootskappe met die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), die regering-, arbeid-, sake- en gemeenskapsektors is nodig om gesamentlike groei te bevorder.
Hy sê probleme in die mynsektor en werksverliese is waarop mense moet fokus.
“Daardie is die kwessies waarop ons ons aandag moet vestig, hoe om vas te klou aan die werke wat ons het, terwyl ons nuwes skep, eerder as om voort te gaan met die gevaarlike veldtog om negatief oor die land te praat tydens ‘n globale ekonomiese krisis.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA