Presidensie stil oor Tutu-kritiek
2011-03-10 12:54
Johannesburg – Die presidensie het Donderdag geweier om kommentaar te lewer oor emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se kritiek oor president Jacob Zuma en sy administrasie.
Tutu het Zuma tydens sy kanselierslesing gekritiseer.
"Jy sien, hy lewer kommentaar oor hofkwessies en bewerings en daardie soort goed," het Zizi Kodwa, presidensiële woordvoerder, gesê.
"Ons verkies dat die nasionale vervolgingsgesag daarop reageer."
Met verwysing na Zuma het Tutu gesê hy hou baie van hom, hy is ’n “minsame en warm mens”.
“Maar ek dink dit sou beter gewees het as ’n hof hom onskuldig (met betrekking tot die wapenskandaal) kon bevind het ...
“Die regering het tog sekerlik niks om te vrees van ’n regterlike
ondersoek na die wapenskandaal nie. Dit is ’n onnodige albatros (om die
nek) wat groot twyfel skep.”
Oor korrupsie het hy gesê: “Ons land met sy groot potensiaal word tot
ondergang gedwing deur korrupsie, wat in sommige gevalle heeltemal
blatant voorkom.”
Hy het gesê dit is moontlik, maar baie onwaarskynlik, dat daar geen
verband is nie tussen Zuma en die mediese parool van die gholfspelende
Schabir Shaik, wat veronderstel is om met een voet in die graf te staan.
So ook die Gupta-familie se lonende saketransaksies waarvan die
president se seun een van die begunstigdes is . “Dit is moontlik dat
daar geen verband is nie, maar dit maak my bekommerd.”
Hy het ook gesê hy sukkel om te aanvaar dat die R100 miljoen vir die
jeugfees – “beswaarlik ’n getuienis van intellektuele diepte” – ’n goeie
belegging was.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA