Presidensie ‘sal gedragskode self hersien’
2010-05-07 06:13
Kaapstad - Pres. Jacob Zuma gaan nie gestraf word omdat hy die etiese gedragskode vir lede van die uitvoerende gesag oortree het nie.
Maar die presidensie en mnr. Jeff Radebe, minister van justisie, sal self die etiese gedragskode hersien nadat die openbare beskermer bepaalde skuiwergate daarin geïdentifiseer het.
Só het mnr. Themba Maseko, regeringswoordvoerder, gister op ’n nuuskonferensie gesê na afloop van Woensdag se kabinetsvergadering.
Maseko het gister uitgewei oor die onlangse verslag van die openbare beskermer, adv. Tuli Madonsela, waarin sy Zuma skuldig bevind het aan pligsversuim omdat hy nie sy belange en bates betyds verklaar het nie.
Ingevolge die etiese kode moes Zuma sy belange binne 60 dae nadat hy as staatshoof beëdig is, verklaar het. Hy het dit eers tien maande daarna verklaar.
Madonsela het in haar verslag op leemtes in die gedragskode verwys, veral dat daar geen voorsiening gemaak word vir optrede teen oortreders daarvan nie.
In die afgelope week se kabinetsvergadering het die onduidelikheid met bepaalde aspekte van die gedragskode ter sprake gekom. “Dit sê byvoorbeeld nie van wie die president toestemming moet verkry voordat hy geskenke van meer as R1 000 aanvaar nie,” het Maseko gesê.
Mnr. Athol Trollip, die DA se parlementêre leier, het egter skerp gereageer op die kabinet se uitlatings wat hy “bloot as ’n rookskerm” bestempel het. Die feit dat die kabinet hom toespits op die probleme in die etiese gedragskode, eerder as op Zuma se oortreding daarvan, is uiters kommerwekkend.
“Die president behoort hom te skaam, maar dit is nie die geval nie. Hy is gerusgestel in die wete dat sy kollegas hul beginsels versaak het en dat hy spesiale behandeling kry.”
Deur nie die president verantwoordbaar te hou nie, sê Trollip, stuur die regering die boodskap uit dat die wet onderhandelbaar is.
- Die Burger
- Die Burger