Presidensie kan nie Marikana-ultimatum bevestig
2012-08-31 22:28
Johannesburg – Die presidensie kon nie Vrydag bevestig of pres. Jacob Zuma 'n brief ontvang het wat eis dat die 270 mynwerkers vrygelaat moet word nie.
City Press het op hul webwerf berig dat die brief Vrydag deur die mynwerkers se prokureurs, Maluleke, Msimang en Vennote aan Zuma gestuur is.
Zuma is gevra om die mynwerkers Sondag teen 13:00 vry te laat of 'n dringende hofaansoek in die gesig te staar wat hom dwing om hulle vry te laat.
Maluleke, Msimang en Vennote het glo in die brief geskryf dit is "onwettig" om die mynwerkers agter tralies te hou.
Mthunzi Mhaga, ministeriële woordvoerder, het gesê Jeff Radebe, minister van justisie, het nog nie die brief gesien of ontvang nie.
Die groep 270 mans is op 16 Augustus in hegtenis geneem ná 'n skietery en betogings naby Lonmin se Marikana-myn in die Noordwes waarin 34 mense dood is.
Die mans is aanvanklik van openbare geweld aangekla.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het egter Donderdag bekendgemaak dat hulle ook van moord en poging tot moord aangekla gaan word weens die dood van hul kollegas.
Radebe het die waarnemende hoof van die NVG, Nomgcobo Jiba, gevra om ‘n verslag saam te stel waarin die rasionaal agter dié besluit uiteengesit word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA