Presidensie: Cele nié afgedank
2011-10-16 14:54
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, is nie deur pres. Jacob Zuma in die pad gesteek nie, het die presidensie Sondag gesê.
"Daar is nie so iets nie. Nee. Dit is pure spekulasie. Daar is geen waarheid in daardie berig nie," het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, in reaksie op 'n berig in Sunday Independent gesê.
Volgens dié berig is Cele afgedank en gevra om 'n diplomatieke posisie in Kanada te vul. Hy sal na verwagting sy kantoor teen 30 November leegmaak.
Cele is glo afgedank ná 'n verslag van adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, hom betrek het by omstrede huurkontrakte vir geboue in Durban en Pretoria.
Madonsela het Cele skuldig bevind aan wangedrag en wanadministrasie.
Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie, het gesê dit maak nie saak of die berig waar is of nie.
"Iets moet gedoen word oor Bheki Cele en die Openbare Beskermer se verslag."
Die polisie en die koerant was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA