Premier verkla haar regspan
2012-01-31 09:00
Johannesburg – Die Gautengse premier het ’n amptelike klag by Jeff Radebe, minister van justisie, ingedien oor die manier waarop haar staatsregspan sake hanteer en ’n nuwe, private regspan in hul plek aangestel.
Nomvula Mokonyane is Vrydag vir die tweede keer in minder as twee weke in die verleentheid gestel toe die balju by haar kantoor in Johannesburg opgedaag het om beslag te lê op goedere van byna R1 miljoen omdat haar regspan nagelaat het om hofbevele uit te voer en skadevergoeding te betaal.
Die minister het die premier verseker dat hy ’n ondersoekspan aanstel wat sal bepaal waarom die regspan nagelaat het om betyds te betaal, het Xoli Mngambi, die premier se woordvoerder, Maandag gesê.
Mokonyane se regspan het ’n hofbevel verontagsaam om R9,25 miljoen plus regskoste en rente aan die gesin van die 12-jarige Prince Sibusiso Khanyi uit te betaal.
Prince het by geboorte in die provinsiale Pholosong-hospitaal permanente breinskade opgedoen weens die hospitaal se nalatigheid.
Vrydag het die balju weer by die premier opgedaag omdat sy nagelaat het om R6,3 miljoen skadevergoeding aan Shabbier Nagel te betaal.
Sy been is afgesit toe hy na die Steve Biko-akademiese hospitaal in Pretoria is vir ’n hartoperasie.
Mngambi was nie daarvan bewus dat die premier ’n nuwe span prokureurs aangestel het nie, maar Gary Austin, die Khanyi-gesin se regsverteenwoordiger, het gesê hy is Vrydag daarvan in kennis gestel en het met die nuwe regspan vergader.
Ná maande se gesukkel met die staatsregspan het hy reeds Maandagmiddag ’n betalingsooreenkoms van die nuwe prokureurs ontvang.
Daar is minstens 101 eise van altesame R235 miljoen teen die departement van gesondheid. Omdat die departement deel is van die provinsiale regering, moet die premier verantwoordelikheid vir dié eise aanvaar.
In Augustus verlede jaar het ’n nuwe wysigingswet in werking getree wat bepaal dat die LUR van die betrokke departement, en nié die premier nie, voortaan gedagvaar sal word.
Vir sake wat voor Augustus 2011 ingestel is, is die premier egter steeds aanspreeklik.
Die departement van gesondheid het intussen ’n ooreenkoms met die balju bereik en hom voorgeneem om die R6,3 miljoen plus rente van R320 000 teen 3 Februarie aan Nagel se regsverteenwoordigers te betaal.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld