Premier ondersoek oor duur ontbytvergadering
2013-01-30 13:51
Johannesburg – Die DA gaan Nomvula Mokonyane, die premier van Gauteng, ondersoek ná 'n berig dat haar kantoor R700 000 bestee het aan 'n ontbytvergadering wat The New Age verlede jaar aangebied het.
"Ek gaan vrae vra in die Gautengse wetgewer oor die buitensporige besteding, wat nie geregverdig is in terme van die bevoordeling van mense in Gauteng nie," het Jack Bloom, Gautengse DA-koukusleier, gesê.
"Die vermoede is dat die geld getregter word om die koerant te help, omdat die Gupta-familie, wat nou verbonde is aan pres. Jacob Zuma, dit besit."
The Star het Woensdag berig dat Mokonyane se kantoor R683 095 betaal het vir die vergadering wat op 4 Oktober 2012 gehou is.
Die premier se kantoor het ook 'n rekening ontvang vir 500 gaste teen R801 per persoon – 'n totaal van R400 890 – en vier voorbladadvertensies teen R44 070 elk, wat R176 280 beloop.
Thebe Mohatle, woordvoerder van die premier, het gesê haar kantoor sal later kommentaar lewer oor die berig.
Gary Naidoo, woordvoerder van The New Age, het gesê die maatskappy is "nogal verras" oor navrae oor Mokonyane se vergadering.
"Die ontbytvergadering se borgskap dek die bemarking, spyseniering, huur van die lokaal, oudiovisuele koste en geleentheidbestuur.
"In die spesifieke saak het die Gautengse premier sitplekke gekoop om rolspelers in die provinsie na die belangrike vergadering te nooi. Advertensies was ingesluit in die ooreenkoms."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA