Potch-student erg beseer in motorongeluk
2010-09-18 09:30
Potchefstroom – ’n Student en uitblinker-sportvrou van die stad wat in ’n kinderhuis grootgeword het, is in ’n bedenklike toestand nadat sy ernstige gesig- en kopbeserings in ’n motorongeluk opgedoen het.
Chantelle Muller (19) word in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal se waakeenheid behandel. Sy het swelling op die brein, asook skedelbreuk en talle gesigfrakture. Sy sal waarskynlik gesigrekonstruksie moet ondergaan.
Derrick Banks, ER24-woordvoerder, het gesê Muller en nog vier studente het Woensdagaand in ’n Land Rover in Potchefstroom gery toe die bestuurder beheer daaroor verloor het. Die voertuig het eers teen ’n lamppaal en toe teen ’n boom gebots.
Muller en Liana Pretorius, wie se heup ontwrig is, is albei na die Potchefstroomse hospitaal geneem. Die ander drie studente is na die Medi-Clinic in die stad. Hulle is nie ernstig beseer nie.
Volgens Celente Coetzee, ’n vriendin van Muller, het die ongeluk omstreeks 22:30 gebeur toe Muller en die vier ander studente na die Boerebar in die stad se nywerheidsgebied op pad was.
“Sy is by haar positiewe en antwoord as ’n mens haar vrae vra. Sy maak ook al haar oë oop, maar het baie pyn. Toe ek vir haar Lip Ice aansit, het sy gesê dis seer. Sy kan niks van die ongeluk onthou nie en het gevra hoekom sy in die hospitaal is.”
Volgens Coetzee het Muller se dokter gesê sy sal nog sowat vyf dae in die waakeenheid versorg word en dat hy dan, as die swelling begin sak het, sal besluit of hy haar na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Johannesburg sal oorplaas.
Lourens van Niekerk van die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom het vertel Muller was nege jaar oud toe sy daarheen gekom het. Sy is die jongste van drie kinders. Hul ma is aan kanker dood toe Muller 11 jaar oud was.
“Chantelle het op akademiese en sportgebied uitgeblink.”
Sy het op laerskool Noordwes-kleure in gimnastiek verwerf en aan die Suid-Afrikaanse kampioenskapstoernooi deelgeneem. Sy het ook ’n afrigterskursus in gimnastiek geloop. “Op hoërskool het sy in landloop uitgeblink en akademies bogemiddeld presteer.”
Muller studeer onderwys op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.
Die kinderhuis het in samewerking met Willem Coetzee-prokureurs in die stad ’n trustfonds vir Muller gestig wat vir haar mediese behandeling aangewend sal word omdat sy nie ’n mediese fonds of ander geldbronne het nie.
Die kinderhuis en prokureursfirma sal die fonds administreer.
- Navrae oor die fonds kan aan die kinderhuis by 018 294 5347 gerig word.
- Beeld