Potch-burgemeester sê nee vir duur Merc
2013-02-08 11:14
Johannesburg – Prof. Annette Combrinck, burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit, weier om 'n luukse motor te gebruik wat verlede week by haar afgelewer is, het Beeld Vrydag berig.
Peperduur ampsmotors vir burgemeesters is nie meer toepaslik in ’n tyd waarin soveel mense van armoede krepeer nie, het sy aan die koerant gesê.
Sy verkies om haar persoonlike Volkswagen Passat wat nege jaar oud is ook vir amptelike ritte te gebruik.
Combrinck het Donderdag vir die eerste keer self gepraat oor die kwessie dat die munisipaliteit ’n Mercedes-Benz vir R736 000 vir die vorige burgemeester, Maphetle Maphetle, bestel het.
Dit is al in Junie verlede jaar betaal, maar eers verlede week afgelewer omdat spesiale afwerkings wat die munisipaliteit glo versoek het, eers aangebring moes word.
Twee leenvoertuie van die handelaar is albei beskadig terwyl die Tlokwe-munisipaliteit dit gebruik het.
Die motor staan nou in 'n motorhuis by die munisipale kantore.
Maphetle het aan Beeld gesê hy het nie vir die spesifieke model of spesiale afwerkings gevra nie omdat hy nie presies geweet het waarvoor begroot is nie.
Combrinck het gesê: Hoewel die Mercedes se prys binne die perke val van waarvoor begroot is, is die regte verkryingsprosedures dalk nie gevolg nie.
“My grootste beswaar is egter in beginsel dat duur ampsmotors in die algemeen (nie net by Tlokwe nie) onnodig en uitgedien is.”
– Volg Nuus24 op Twitter