Pornografie 'gevaarlik', sê Sondagverkragter
2012-08-28 20:14
Johannesburg – Die vermeende Sondagverkragter het erken dat hy aan pornografie en kinderpornografie verslaaf is.
“Dit is ‘n gevaar. Dit word ‘n verslawing wat al jou tyd en aandag mors,” het Johannes Jacobus Steyn Dinsdag tydens die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof in Alberton gesê.
Hy het onskuldig gepleit op twee aanklagte van moord, 11 van verkragting, 10 van seksuele aanranding, 10 van ontvoering, een van poging tot seksuele aanranding, een van poging tot ontvoering en twee aanklagte van aanranding.
Steyn het in die hof gesê hy het baie pornografie en kinderpornografie gekyk. Hy het dit met die verslawing aan sigarette en drank vergelyk en gesê dit het met sy werk ingemeng.
“Ek sou by die werk opdaag en pornografie kyk voor ek met my werk begin het.”
Carina Coetzee, vir die staat, het hom gevra hoe die verslawing sy gedrag beïnvloed.
“Dit lei tot meer drange,” het hy gesê.
Sy het gevra of hy ooit die dade wat hy in hierdie films gesien het, uitgevoer het.
“Nie noodwendig nie,” het hy geantwoord.
Regter Sita Kolbe het hom gevra om sy antwoord te verduidelik. Hy het gesê hy het sommige van die seksuele dade uitgevoer, maar ander was ‘n bietjie vergesog.
Steyn het vroeër gesê hy het homself tydens ‘n skulderkenning as ‘n monster beskryf.
“Dis wat in my kop opgekom het... Dit is wat die media my sou noem,” het hy gesê.
Steyn het ‘n dag nadat die tiener Louise de Waal op 12 Oktober verlede jaar ontvoer en vermoor is, ‘n skulderkenning aan ‘n landdros in Krugersdorp gemaak.
Sedert die begin van die verhoor het die verdagte gesê hy is gedwing om dié skulderkenning te maak.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA