Politieke partye bring hulde aan Rajbansi
2011-12-29 23:00
Johannesburg – Die KwaZulu-Natalse DA-leier Sizwe Mchunu -- die man waarna die Minderheidsfront-leier Amichand Rajbansi eens as 'n "ornament" verwys het -- was een van die eerste mense om sy medelye te betuig met Rajbansi se afsterwe Donderdag.
"Mnr Rajbansi was een van die politici wat ons provinsie die langste gedien het en ons, die Demokratiese Alliansie, sal beslis sy lewendige debatte by die provinsiale wetgewer mis," het Mchunu in 'n verklaring gesê.
Rajbansi was vroeër vanjaar ontevrede met die feit dat Mchunu nie op die leier se plek gesit het in die wetgewer nie, ten spyte van die feit dat hy as provinsiale partyleier verkies is.
Dit het Mchunu 'n "ornament" gemaak, het Rajbansi destyds gesê.
Mchunu het in sy verklaring gesê hy hoop Rajbansi se geliefdes "sal krag vind in hulle geloof in hierdie hartseer tyd".
Rajbansi is Donderdagoggend in die ouderdom van 69 dood ná hy in Oktober in 'n hospitaal in Umhlanga, buite Durban, opgeneem is met bronchitis.
Die ANC in KwaZulu-Natal het gesê Rajbansi het 'n lang en merkwaardige loopbaan in politiek gehad, beide in die era tydens en ná apartheid.
"Omdat ons van verskillende partye was het ons nie altyd saamgestem nie. Ons het egter sy pogings om sy party binne die raamwerk van ons nuwe en demokratiese Suid-Afrika te posisioneer, waardeer," het Sihle Zikalala, die ANC se provinsiale sekretaris, gesê.
Die IVP het gesê Rajbansi was een van Suid-Afrika se politieke reuse.
"Sy diep verbintenis daartoe om ons demokrasie te verdiep en te konsolideer kan nie bevraagteken word nie," het die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi in 'n verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA