‘Politieke magspel knou SA onderwys'
2010-11-16 08:15
Die Burger
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het ’n ernstige probleem as gevolg van politieke magspel en die kultuur van middelmatigheid wat in skole heers.
Só het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, Maandag gewaarsku.
Hy het gereageer op ’n toespraak van die ekonoom Dawie Roodt die naweek in Bloemfontein by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se jaarvergadering.
Volgens Roodt is Suid-Afrika se onderwysstelsel “van die swakste ter wêreld”.
“Die probleem is nie noodwendig ’n tekort aan hulpbronne nie, maar eerder dat skole polities deur vakbonde beheer word.
“Die regering het dus geen reg om aan te dring dat onderwysers in klasse móét wees nie,” het Jansen gesê.
“Kinders word opgeoffer vir salarisse en die agtergeblewe skole kry die swaarste.”
Hy het gesê daar is wel goeie dele in die stelsel, maar wanneer jy ’n algemene evaluering sou doen, is Suid-Afrika eintlik maar “rock bottom”.)Prof. Yusef Waghid, dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê hy dink nie Suid-Afrika kan met die swakste in die wêreld vergelyk word nie.
“Natuurlik het ons probleme en uitkomsgerigte onderrig het nie juis gehelp om die probleme op te los nie.”
Hy dink daar moet meer gedoen word om samewerking tussen agtergeblewe en benadeelde skole te bevorder. Meer klem moet ook op onderwysopleiding geplaas word.)Prof. Nan Yeld, onderwyskundige van die Universiteit van Kaapstad, het saamgestem dat Suid-Afrika baie swak terugvoering kry oor beleggings wat gedoen word.
“Die groot aantal leerders in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel plaas geweldige druk op skole,” het Yeld gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger