'Politieke landskap beter sonder Malema' – AfriForum
2012-02-05 15:48
Kaapstad – AfriForum het die ANC se nasionale appèlkomitee se besluit om Julius Malema se aansoek om appèl van die hand te wys, verwelkom.
Volgens die burgerregtegroep sal die Suid-Afrikaanse politieke landskap ook ‘n beter plek sonder sonder die omstrede leier wees.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Sondag in ‘n verklaring gesê hy is dankbaar dat AfriForum en ander belanghebbendes se besware en hofsake teen Malema se polariserende gedrag, uiteindelik daartoe bygedra het dat die ANC genoop was om teen Malema op te tree.
“Die ANC kon baie van die skade wat Malema aan gemeenskapsverhoudinge aangerig het, verhoed het as hulle vroeër teen hom opgetree het, maar hierdie is 'n geval van liewer laat as nooit,” het Kriel gesê.
Volgens Kriel het Malema sy steun oorskat en sy prominensie was slegs gebaseer op die feit dat hy as senior leier in die regerende party polariserende uitsprake gemaak het.
Die afwesigheid van Malema as 'n ernstige rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek bied volgens Kriel 'n gulde geleentheid aan almal in die land om daaraan te werk om gemeenskapsverhoudinge te normaliseer.
“Malema was die afgelope twee jaar die grootste polariserende faktor in die land en sonder hom op die toneel sal dit baie makliker wees om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder,” het Kriel bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24