Politici vier doop van Mandela-boulevard
2011-07-16 09:01
Kaapstad – Een van Kaapstad se hoofpaaie is Vrydag van Oostelike Boulevard na Nelson Mandela-boulevard herdoop, maar nou is daar ’n nuwe probleem.
Oswald Pirow-rylaan is een van die paaie wat Nelson Mandela-boulevard kruis, en dit is ’n kwessie wat die premier, Helen Zille, asook die ANC-leierskorps van die Moederstad erg grief.
“Die geskiedenis van dié pad is tragies. Dit was een van die eerste paaie wat Distrik Ses verdeel het,” het Zille Vrydag oor Oostelike Boulevard gesê.
Zille het voorts gesê dit het heeltemal te lank geneem om die naamsverandering deur te voer. “Maar nou is Oswald Pirow-rylaan ’n belediging vir die nuwe Nelson Mandela-boulevard waarmee dit kruis.”
Xolani Sotashe, ANC-hoofsweep in die Kaapse stadsraad, het gesê Pirow “was ’n moordenaar. Daar is steeds al hierdie name wat ons herinner aan die verlede”.
Die burgemeester, Patricia de Lille, het gesê Oswald Pirow-rylaan gaan voor die einde van die jaar na Christiaan Barnard-rylaan herdoop word.
De Lille het Vrydagoggend met die onthulling van die eerste padteken waarop Nelson Mandela-boulevard aangedui is, gesê dit is ’n groot dag vir die Kaapse stadsraad.
“Ons neem vandag die tree om almal in die stad saam te bind.”
De Lille het eers die nuwe naambord onthul, waarna sy ’n rooi lint geknip het wat oor Nelson Mandela-boulevard gespan is.
Daarna was sy ook die eerste persoon wat op dié pad met sy nuwe naam gery het.
“Die omgewing waarin ons woon, vorm ons denke. Ons verlede en die trauma en hoop wat daarin vermeng is, is in groot letters geskryf oor ons landskap.”
De Lille het gesê die apartheidsregering het presies geweet wat dit beteken om eienaarskap van openbare plekke op te eis.
“Deur ’n strategie van selektiewe benaming en selektiewe kulturele erkenning is ’n bepaalde interpretasie op die wêreld en toekomstige generasies afgedwing. Dit was ’n veldtog om die geskiedenis te besit en daardeur ook die toekomstige geheue van mense.”
Sy het verder gesê die erfenis van apartheid leef steeds voort en mense is al te gewoond aan die werklikheid van apartheid in die stadsbeplanning.
“Met dié beplanning is ons steeds verdeeld, selfs lank nadat die apartheidsregering verval het.
“Ons erken sekere dele van die geskiedenis, maar nie die geskiedenis wat ons deel nie. Dit word nou verander.”
De Lille het gesê die geskiedenis wat mense deel, gaan voortaan erken word wanneer name aan nuwe paaie en openbare plekke gegee word.
Volg Nuus24 op Twitter.