Politici gaan moue oprol op Madiba-dag
2010-07-14 06:29
Kaapstad - Politici sluit hulle die naweek by gewone Suid-Afrikaners en mense in ander wêrelddele aan om 67 minute van hul tyd aan vrywillige werk af te staan ter viering van Mandela-dag.
Sondag is die tweede herdenking van Mandela-dag, wat plaaslik en internasionaal jaarliks op 18 Julie – oudpres. Nelson Mandela se verjaardag – herdenk word.
Mense het op dié dag die geleentheid om 67 minute van hul tyd te gee om iets vir iemand anders te doen. Die idee is dat mense iets positiefs vir hul gemeenskappe doen, veral vir minderbevoorregtes. Mandela was vir 67 jaar polities aktief.
Helen Zille, Wes-Kaapse premier, en Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sluit hulle Sondag by ’n groep motorfietsryers aan wat ’n gesondheidsentrum in Khayelitsha gaan opknap. Dié geleentheid vorm deel van ’n motorfietstoer ter ondersteuning van Mandela-dag.
Dié inisiatief van die Nelson Mandela-stigting waaraan Suid-Afrikaanse en internasionale motorfietsryers deelneem, het gister in Johannesburg begin en sal by ’n aantal plekke onderweg na Kaapstad aandoen waar hulle vir minstens 67 minute vrywillige werk sal verrig.
Zille en Plato sal dié groep Sondag help om ’n heining van 72m om die sentrum op te rig.
Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, gaan ook gemeenskapswerk in dié gemeenskap doen. Sy gaan hand bysit by die Sibongile-sorgsentrum wat na serebraal en ander erg gestremde kinders omsien. Pandor gaan onder meer help om middagete voor te berei en sal ook klere aan die kinders uitdeel wat deur amptenare van die departement geskenk is.
Bantu Holomisa, UDM-leier, en Patekile Holomisa, ANC-LP, gaan Sondag help om sowat 3?000 inheemse bome af te laai wat aan die Hegede-stam waaraan hulle behoort, geskenk is.
’n Groot geleentheid om die aanplant van die bome te vier, vind op 2 Augustus in hul gemeenskap in die Oos-Kaap plaas.
“Die plan is om die ekosisteem te verbeter. Ons het ou kaarte gaan opsoek en beoog om die bome weer op daardie plekke te plant.” Altesaam 92 van dié bome gaan aan Qunu, Mandela se geboortedorp, geskenk word om dit te verfraai.
Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, en lede van die vakverbond gaan aan ’n waak teen xenofobiese geweld by die parlement deelneem. “Mense moet nie deelneem aan dié onmenslike barbaarse dade nie, maar eerder Mandela se voorbeeld navolg en die waardes van demokrasie nastreef.”
* Sapa berig Mandela sal die dag saam met sy familie in Houghton deurbring.
- Die Burger