Polisievrou skiet kinders, toe haarself
2009-10-18 09:21
Johannesburg - 'n Kaptein in die polisie het die naweek haar twee kinders en toe haarself in hul huis in Centurion geskiet, het die Pretoria-polisie Sondag gesê.
Kapt. Annake van Niekerk het Saterdag haar drie maande oue baba en 12-jarige seun geskiet voordat sy die vuurwapen op haarself gerig het, het insp. Wanda Olivier gesê.
"Ons kan bevestig daar was nie vuilspel nie... alles dui daarop dat die ma die vuurwapen gebruik het. Forensiese toetse wys sy het die wapen gevuur... hulle het (kruit) residu-toetse gedoen en residu is op haar hande gevind."
Van Niekerk se 12-jarige seun is Saterdag by die Unitas-hospitaal dood, kort nadat haar eks-man rondom middagete op die toneel afgekom het.
Die motief vir die moorde is nog onbekend.
'n Kaptein in die Pretoria kriminele rekords-afdeling het gesê Van Niekerk het alleen saam met haar kinders gebly.
Die ondersoek duur voort.
- Sapa