Polisievrou, ses ander in hof
2012-01-06 20:14
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte van Soweto, haar man en vyf ander mense sal na verwagting in die Protea-landdroshof verskyn, het die Johannesburgse polisie gesê.
Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn nadat hulle glo R160 000 van ‘n taxi-vereniging gesteel het.
Kapt. Mphande Khoza sê die 35-jarige sersant – wat by die Moroka-polisiestasie gebaseer is – en haar 49-jarige man is Donderdagaand by hul huis in Molapo, Soweto, in hegtenis geneem.
Twee voormalige polisiereserviste is onder die ander vyf aangehoudenes.
Die sersant is geskors ná ‘n rooftog in Langlaagte, Johannesburg, waar R90 000 van ‘n Pakistanse winkel gesteel is. Die twee reserviste is ook voorheen uit die polisiediens geskors vir hul betrokkenheid by die Langlaagte-rooftog.
Die sewe verdagtes het na bewering op 9 Desember 2011 by die kantore van die Witwatersrand African Taxi Association in Roodepoortweg in Soweto ingebreek.
Hulle het na bewering die veiligheidswagte vasgebind, by die kluis ingebreek en die R160 000 gesteel.
Die groep staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA