Polisievrou help verwaarloosde diere
2011-12-19 16:48
Johannesburg – Selfs 'n rot het vanjaar Kersvreugde gevind nadat 'n polisievrou van Wolmaranstad haar oor 'n klomp diere, wat aan hul eie lot oorgelaat is, ontferm het, het polisie in Noordwes Maandag gesê.
Polisiewoordvoerder Karen Tredoux het gesê 'n "bekommerde" lid van die publiek het die polisie die afgelope naweek gekontak oor verwaarloosde diere, wat blykbaar deur hul eienaar vir twee weke alleen gelos is.
"'n Konstabel van die polisiekantoor in Wolmaranstad het toe self gegaan om die diere, wat twee varke, twee kleinvarkies, 18 hoenders, sewe eende, tien hase, twee kalkoene, nege muise en 'n rot insluit, water en kos te gee."
Die dierebeskermingsvereniging (DBV) se Stilfontein-tak is deur die polisie gekontak om die diere na 'n stuk grond in Makwassie te skuif, waar hulle verder versorg sal word.
Die DBV is van plan om 'n klag van wreedheid teenoor diere teen die eienaar aanhangig te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA