Polisiereservis vas wat omkoopgeld eis
2011-12-11 22:08
Johannesburg – 'n Polisiereservis wat hom na bewering as 'n lid van die Valke voorgedoen het om 'n sakeman te oorreed om aan hom omkoopgeld te betaal is in hegtenis geneem, het die Valke Sondag gesê.
Die reservis, wat na bewering deel is van 'n misdaadsindikaat, het 'n Durbanse sakeman daarvan beskuldig dat hy onwettige motors verkoop, het McIntosh Polela, woordvoerder vir die Valke, gesê.
Die polisiereservis het daarna gedreig om die man in hegtenis te neem as hy nie R350 000 betaal nie.
Die sakeman, wat tweedehandse motors na Durban invoer en dit dan weer aan Suid-Afrika se buurlande verkoop, het beloof om die geld te betaal, maar hy het die Valke in kennis gestel.
Die reservis is Saterdag in hegtenis geneem met 'n Mercedes-Benz in sy besit wat in Kaapstad as gesteel gerapporteer is.
Die polisie het in die motor afgekom op 'n polisie-uniform, verskeie identiteitsplaatjies en 'n amptelike polisievuurwapen.
Die reservis, in sy dertigs, sal binnekort in 'n Durbanse hof op aanklagte van korrupsie verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA