Polisiereservis skiet sy kinders, pleeg selfmoord
2013-02-28 15:52
Johannesburg – 'n Polisiereservis van Springbok het Donderdag vroegoggend sy twee kinders doodgeskiet en daarna selfmoord gepleeg, het die Noord-Kaapse polisie gesê.
Konst. Phillip Collins, wat in daardie stadium aan diens was, het volgens lt. Donald Mdhluli die Springbok-polisie gebel en gesê hy het sy twee tienderjarige kinders doodgeskiet. Hy het bygevoeg dat hy beplan om homself te skiet.
Die polisie het na Collins se vriendin se huis gery, waar sy lyk en sy dienspistool gevind is.
Die polisie het daarna in Viooltjiesstraat afgekom op die lyke van Anthony Pascal Cloete, 16, en Mary-Ann Justine Cloete, 13. Dis nie duidelik of die lyke binne 'n huis gevind is nie.
Mdhluli het gesê dis in dié stadium nie bekend of Collins die kinders se biologiese pa was nie.
"In hierdie stadium is die motief vir die moord op die twee kinders, sowel as die dood van reserviskonstabel Phillip Collins, nie bekend nie."
Die polisie het 'n geregtelike doodsondersoek en twee moordsake geopen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA