Polisiemotors verkoop om skadevergoeding te betaal
2011-09-01 21:58
Johannesburg – Vyf motors wat aan die Siyabuswa-polisiekantoor in Mpumalanga behoort, sal verwyder en moontlik Vrydag opgeveil word om skadevergoeding aan die slagoffer van onwettige en kwaadwillige inhegtenisneming te betaal.
Die balju van die Mkobola- en die Mdutjana-landdroshof sal die motors, wat ‘n geskatte R800 000 werd is, verwyder om skadevergoeding te betaal aan John Bossie Mahlangu ná sy inhegtenisneming in Junie, het sy regsverteenwoordiger, Msebenzi Masombuka, Donderdag gesê.
Mahlangu is op sy troudag in hegtenis geneem en is vier dae lank aangehou nadat die polisie hom daarvan beskuldig het dat hy in besit van gesteelde vee was.
Mahlangu het gesê hy het sy neef, John Masilela, R9 000 betaal om vir hom twee koeie koeie as lobola te koop. Masilela het die koeie egter gesteel en by Mahlangu afgelewer. Hy het in die hof gesê daar was geen manier hoe hy kon weet die vee was gesteel nie, aangesien Masilela gewoonlik vee gekoop en verkoop het.
Hy het aan die Times Live-webwerf gesê hy is deur gevangenes aangerand en moes op die vloer van die tronk slaap sonder komberse of kussings. Die aanklagte teen hom is mettertyd teruggetrek, aangesien die polisie hom nie met die misdaad kon verbind nie.
Mahlangu het die minister van polisie, Nathi Mthethwa, op 10 Junie suksesvol gedagvaar vir R210 000.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA