Polisiemanne wat 'afpers' kry R1 000 borgtog
2012-01-17 15:00
Johannesburg – Vier polisiebeamptes wat daarvan aangekla is dat hulle ‘n Ghanese man by die OR Tambo Internasionale Lughawe vir geld afgepers het, het borgtog gekry, het die polisie Dinsdag gesê.
Die vier is Donderdag in hegtenis geneem en het Vrydag in die hof verskyn, het kol. Vishnu Naidoo gesê.
Sers. Tiisetzo Hector Kekwe (34) en konstabels Khulani Abby Lalulekhe (29), Onkaetse Buffalo Loedeo (37) en William Matabal Mahoro (32) het elk R1 000 borgtog gekry.
Hulle sal na verwagting weer op 7 Februarie in die Kempton Park-streekhof verskyn, het Naidoo gesê.
Die polisie het die Ghanese man op 1 Januarie by die lughawe se internasionale aankomssaal voorgekeer en gevra om ‘n bewys van ‘n uitnodiging na Suid-Afrika aan hulle te toon.
Hy het sy paspoort en visum aan hulle gewys en gesê hy het nie ‘n uitnodigingsbrief nodig nie.
Die polisie het gevolglik glo aangedring op $100 (R804) van hom en het gedreig dat hulle hom sal deporteer.
Toe hy aan hulle gesê het dat hy $50 (sowat R405) aan hom het, het hulle hom gedwing om dit in rande om te sit en aan hulle te gee.
Hy het die voorval by die OR Tambo-polisiestasie aangemeld en ‘n ondersoek is van stapel gestuur, het Naidoo gesê.
Hy het die publiek versoek om soortgelyke voorvalle by die polisie aan te meld.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA