Polisiemanne se dood 'n raaisel
2011-09-30 06:53
Bloemfontein – Die skietdood van twee Vrystaatse polisiemanne wie se lyke langs mekaar in ’n motor gekry is, met hul dienspistole by hulle, is steeds ’n raaisel.
Die polisie van Springfontein ondersoek die moontlikheid dat die twee geregsdienaars saam selfmoord gepleeg het, of dat die een die ander vermoor en toe homself geskiet het.
Konstabels Johannes Kaptein en Teboho Matoase, albei 27, se lyke is Saterdagoggend in ’n motor buite die dorp gekry.
Hulle het langs mekaar met skietwonde in hul koppe gelê.
Hul dienspistole het langs hulle gelê.
Inligting dat die twee kort voor hul dood baklei het, is deel van die polisie-ondersoek.
Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê die polisie het aanvanklik vermoed die twee polisiemanne is vermoor.
’n Lykskouing en ander inligting dui egter daarop dat twee polisiebeamptes óf saam selfmoord gepleeg het, óf dat die een die ander geskiet en toe selfmoord gepleeg het.
Kaptein het die afgelope twee jaar op Springfontein as speurdergewerk. Matoase het die afgelope vier jaar in die aanklagkantoor gewerk.
Volksblad het amptelike navrae aan die polisie gestel nadat inligting van die polisiebeamptes se dood vier dae lank weerhou is.
Die polisiehoof op Springfontein, kapt. Lebogang Seome, het gesê die dood van ’n polisiebeampte is soos om ’n kind te verloor. “In my geval het ek twee kinders verloor. Dit is uiters hartseer en ons harte en gebede is met hul familie.”
Die twee polisiemanne sal moontlik albei in Botshabelo begrawe word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad