Polisieman wat glo vrou vermoor, pleit onskuldig
2011-08-29 22:00
Pietermaritzburg – Morné Croeser, ‘n polisiebeampte van KwaZulu-Natal, het Maandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg onskuldig gepleit op aanklag daarvan dat hy sy vrou vermoor het.
Konst. Croeser (34), ‘n lid van die stad se honde-eenheid, word daarvan aangekla dat hy sy vrou, Erika, in Augustus verlede jaar 14 keer met ‘n mes gesteek het in hulle huis. Sy het op die toneel gesterf.
Luidens die klagstaat het hy homself in die maag gesteek nadat hy sy vrou vermoor het, om ‘n leuen te steun dat hulle deur ‘n inbreker by hul huis aangeval is. Ná die moord het Croeser sy bure gekontak, wat die polisie in kennis gestel het.
Hy is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Luidens hofdokumente was daar onmin tussen die egpaar en het Croeser beplan om haar te vermoor.
Erika se tweelingbroer, Francois Schaefer, het aan die hof gesê hy en sy suster was na aan mekaar en dat sy in Februarie verlede jaar aan hom gesê het Croeser het haar aangerand.
Sy het Schaefer glo gevra om haar te help om ‘n interdik teen haar man te kry. Volgens Schaefer het hulle na ‘n New Hanover-hof gegaan om so te maak, maar die interdik is nooit toegestaan nie.
Croeser het in Mei verlede jaar gedreig om enigiemand te vermoor wat sy kinders van hom probeer wegvat, het Schaefer gesê.
Die verhoor duur voort.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA