Polisieman, vrou moor glo met bakstene
2010-01-19 10:01
Port Elizabeth – ‘n Polisieman en sy vrou het Maandag voor die landdroshof in Port Elizabeth verskyn nadat hulle glo twee mans, wat volgens hulle in hul huis ingebreek het, doodgeslaan het.
Sers. Vuyani Jindela (33), sy vrou Ntombiziyanda (32) en die egpaar se buurman, Sipho Mpayise (33), het glo die twee mans met klippe, bakstene en besemstokke doodgeslaan.
Hulle het die mans daarvan beskuldig dat hulle in die paartjie se huis in KwaDwesi ingebreek het.
Die voorval het op 27 Desember verlede jaar plaasgevind nadat daar op 18 Desember by die huis ingebreek is terwyl die egpaar met vakansie was.
Jindela het glo inligting oor die verdagtes ingewin en hulle opgespoor. Hy en die ander het toe die mans begin aanrand toe hulle verby ‘n huis in Mnqumastraat gestap het.
Een van die mans is op die toneel dood terwyl die ander een verlede week in die hospitaal oorlede is.
Die saak is uitgestel tot 25 Januarie.
- Sapa