Polisieman vertel in hof van gru-moord
2013-02-22 14:27
Kaapstad – 'n Kaapse polisieman het in die Blue Downs-landdroshof beskryf hoe die 16-jarige Charmaine Mare vermoor en vermink was, is Vrydag berig.
Daniel Sampson, die ondersoekbeampte, het Donderdag inligting oor die moord tydens Johannes de Jager se borgtogaansoek bekend gemaak.
Sampson het gesê die 48-jarige De Jager het Mare na bewering op 11 Januarie vermoor nadat hulle gestry het in 'n huis in Windsor Park, waar sy vir die vakansie gebly het.
De Jager het saam met sy vriendin in die huis gewoon.
Charmaine van Mpumalanga was 'n vriendin van De Jager se meisie se dogter.
"Die beskuldigde het aan my gesê hy en Charmaine het in die badkamer gestry. Sy het geval. Hy het haar aan haar nek gegryp, uit die badkamer tot in die gang en toe in die gang na die braaikamer tot in 'n drein gesleep. Die drein was sowat 1 m diep," het Sampson gesê.
De Jager het Charmaine na bewering in die drein geprop en wou later die lyk gaan uithaal, maar omdat die lyk styf was, het hy haar arms en bene afgesny om haar uit te kry.
Haar verbrande bolyf is 'n paar dae later in 'n straat in Kraaifontein gevind en haar arms en bene is op verskillende plekke gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA