Polisieman vas vir ontvoering
2010-10-22 22:02
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte van die Rabie Ridge-polisiestasie is Vrydag in hegtenis geneem, het die polisie in Limpopo gesê.
Dié inhegtenisname is die vierde in verband met die ontvoering van die 32-jarige, Nkiti Mashishi, het lt. kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, gesê.
Twee vroue, onderskeidelik 26 en 43 jaar oud, en ‘n 28-jarige man is ook vasgetrek nadat hul Mashishi glo aangerand en in die agterbak van sy motor gegooi het.
Volgens die verdagtes het hul die slagoffer by die Kranskop-tolhek afgelaai. Mashishi is egter sedert die voorval op 16 Oktober plaasgevind het, steeds vermis.
Die vier verdagtes sal Maandag in Matlala in die hof verskyn.
Die polisie is steeds op soek na Mashishi.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA