Polisieman vas vir korrupsie
2011-10-16 16:59
Noordwes – 'n Polisieman is in Wolmaransstad in hegtenis geneem nadat hy omkoopgeld aanvaar het om 'n dossier oor veediefstal te laat verdwyn, het 'n woordvoerder Sondag gesê.
Lt.kol. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het 'n lokval gestel en die speurkonstabel gevang toe hy Saterdagmiddag R2 000 kontant van twee mans by 'n vulstasie aanvaar het.
Die beampte is verbonde aan die veediefstaleengheid in Sannishof.
Metsi het gesê die twee mans is uit op borgtog nadat hulle onlangs in Atamelang in hegtenis geneem is vir veediefstal.
"Die beampte het aanvanklik R8 000 van die beskuldigdes geëis om van die dossier ontslae te raak," het Metsi gesê.
"Hulle het hom na bewering R6 000 op twee vorige geleenthede betaal, maar hy het nie twee ander afsprake in Ottosdal nagekom om die finale betaling te ontvang nie."
Dít het die mans frustreer, waarna hulle toe die polisie in kennis gestel het.
Metsi het gesê die twee beskuldigdes kan dalk ook van bedrog aangekla word.
Die polisieman in sy 30's, sal na verwagting van omkopery en korrupsie aangekla word. Hy verskyn Maandag in die Wolmaransstad-landdroshof.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA